Tuesday, 9 August 2011

Die begin van alles....

DIE VERLOWING



Ek was in ekstase toe Björn my die 3de Januarie 2010 vra vir my hand in die huwelik!

Met 'n briefie en 'n piekniek mandjie is ek vroeg die oggend wakker gemaak... Dit het so gereën daardie week en Björn het gesê dat hy net nie meer kon wag vir 'n sonnige daggie om te piekniek nie! Ek giggel nou nog binne in myself as ek terug dink aan die tikkie geïrriteerdheid in sy stem oor die weer nie wou saam speel met sy planne nie! So dit was sjampanje en kasies en southappies en aarbeie en room en sjokalade vir ontbyt!

Natuurlik het ek begin snik-snik en die trane wat oor my ronde wangetjies gerol het was letterlik 'n oorstroming van die geluk en liefde wat ek binne in my het vir hierdie besonderse man! Sy asemrowende woorde op 'n papier wat hy skelm-skelm self ge'scrapboek' het, het natuurlik die traankliere ook oopgedraai! Trane van vreugde...

Die briefie lees....

“Die tyd, die groot oomblik, het aangebreek. My hart klop nou verwoestend vinnig, maar hy klop vir jou. Ek is van voor af verlief op my enigste liefde. My beter helfte, my beste helfte. Dis waar wat hulle sê dat agter elke man staan daar ‘n vrou, maar net agter sommige mans staan daar ‘n goeie vrou, ‘n lewensmaat. Ek hoor kerk klokke lui en daars altyd ‘n ring betrokke wat so ‘n groot besluit seël vir altyd. Vir altyd klink so lank, maar ek wil saam met jou oud word sodat ons kan terug kyk na die lewe wat ons saam gehad het, want agter my staan ‘n goeie vrou. Ek sal die wind vra om jou te dra en jou te lig na hoër vlaktes. Ek sal die see vra met sy magdom water om jou naam oor die wêreld te verkondig, maar al my gebede lê by God wat die wind en die water beheer, sodat Hy jou sal beskerm waar jy mag gaan. Toe ek God destyds gevra het vir die perfekte meisie toe stuur Hy ‘n engel na my toe wat van oor tot oor met liefde kan uitstraal en almal se lewens verryk met innerlike skatte van haar hart, wat soveel plek het vir almal wat sy lief het, maar is tog so klein en ‘fragile’. Jy is ‘n rare skat wat onbekostigbaar is, maar tog deur iemand kan hy jou so lief kry dat hy jou nie met die wêreld wil deel nie. Nege jaar wat ons twee saam is en daar is nie ‘n dag wat verby gaan wat ek kan sê ek het jou minder lief nie. Ek kan nie sonder jou klaar kom nie. Jy is my alles, my wêreld deur dik en dun en ek wil met jou trou, so hier is my vraag aan jou?”

Nadat ek DIE brief gelees het, het hy op sy knieë gegaan langs die bed en my vertel van die Strandlopertjie voël wat net een lewensmaat kies en daarna nooit weer hom of haar vervang nie. Hy sê toe vir my dat hy soos daardie Strandlopertjie voel en dat hy my as sy lewensmaat wil hê...

Met die perfekte ring wat ons saam uitgekies het by die Arthur Kaplan waar my ma jare laas as jong meisie gewerk het (Baie Dankie Tannie Trudes), en 'n wonderlike Godvresende man, was my antwoord onbetwyfeld en natuurlik 'n duisend maal ja! En nou lê die troudag voor!

No comments:

Post a Comment